Nuusflits 2 van 2017

“EK SAL JOU NOOIT BEGEWE EN JOU NOOIT VERLAAT NIE” Geskryf deur Pieta Oosthuizen
 
Ek was onlangs baie bevoorreg om gedurende die 2016 September skoolvakansie as hoofafrigter van die nasionale 0/19 Bokkieweek rugbyspan na Rusland te toer.  Vir my as plaasseun van die Vrystaat en CVO-onderwyser aan ‘n klein skooltjie van 75 leerlinge in Bloemfontein, het ek inderdaad die vreemde ingevlieg in ‘n Airbus B777-500 teen ‘n gemiddelde spoed van 885 km/h op pad na ‘n land letterlik aan die ander kant van die aardbol.  Om te sê dat ek ietwat aan die bang kant was vir hierdie heerlike uitdaging waarbinne ek my bevind het, was om dit sag te stel.
 
Nadat die Boeing in die lug was, het ek besef dat daar menslik gesproke geen kans was om te oorleef indien die vliegtuig sou val nie. Hierdie besef het nie gehelp om my reeds oorspanne senuwees tot bedaring te bring nie.  ‘n Skietgebedjie was nou al genade.  “Here, hou u asseblief self die vlieënier se hande vas en stuur u die vliegtuig sodat ons veilig by ons bestemming aankom”, het ek gebid. Die oorspronklike skietgebedjie het egter in ‘n vurige gebed verander waarin ek myself soos voor nagmaal ondersoek het en my geliefdes en familie asook land en volk en vyande aan God opgedra het.  Deurentyd het Hebreërs 13:5 in my kop bly maal.  “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie”.  Skielik het my gemoed tot bedaring gekom en ek het gevoel en geweet dat God op daardie oomblik 36 000 voet bokant moeder aarde  waar die temperatuur buitekant die vliegtuig -57 grade Celsius was, ook met my was en dat niks of niemand my ooit uit Sy hand kan ruk nie. Maak nie saak wat met die vliegtuig sou gebeur nie, ek was veilig.  Wat ‘n verligting.  Ek wou dit uitskreeu sodat almal in die vliegtuig dit kon hoor.  “Ek is veilig in God se hand”!
 
‘n Paar sitplekke van my af het twee van my leerlinge, Michal en Dirkie, gesit.  Matriekseuns wat die span gehaal en saam getoer het.  Een ‘n dooplidmaat van die Gereformeerde Kerk en die ander een ‘n belydende lidmaat van ons kerk.  Albei pragtige kinders van die Here wat as deel van ons skool se Leerlingraad op ‘n gereelde basis verantwoordelik is om elke dag se saalbyeenkomste  met skriflesing en gebed te open.  Wat ‘n blye versekering om te weet dat ek in die gemeenskap van die heiliges was, al is dit net twee skoolseuns wat die Here ken, maar oor wie se antwoorde in die Bybelonderrigklas ek by meer as een keer verstom was oor die insig wat hulle in die Skrif openbaar het.  “Here, dankie vir CVO-skole en elke ander skool in ons land waar Jesus Christus openlik bely word”, het ek weer gebid. “Dankie Here vir ‘n vak soos Bybelonderrig in ons skool, dankie vir ons Bybelonderrig onderwyser, meneer Danie de Klerk, wat erns maak met sy vak en vir elke ander Christen onderwyser in hierdie mooi land van ons wat kinders van U leer.  Dankie Here vir verbondsonderrig en elke verbondsonderrig voorganger in die AP Kerk.  Dankie vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Gideons vir die sakbybeltjie in my rugsak en vir tegnologie wat tot gevolg het dat die 1933/53 vertaling van U Woord, in Afrikaans, op my selfoon in my hand beskikbaar is”.  Met ‘n glimlag het ek my rugleuning agtertoe geskuif en begin om die vlug te geniet.
 
Nadat ons veilig in St. Petersburg geland en by Hotel Okhtinskaya ingeboek het waar ons die volgende drie nagte sou deurbring, was die spanbestuurder, meneer Dolf Uys, se eerste woorde aan ons:  “Seuns, etenstyd is 19:00 Russiese tyd.  Ek soek almal kwart voor in die voorportaal vir aandgodsdiens.  Moenie laat wees nie!”  “Dankie Here vir elke Dolf Uys wat as bestuurder van Suid-Afrikaanse rugbyspanne, plaaslik en in die buiteland optree”, het ek weer ‘n skietgebedjie opgesê.  En later weer toe Dolf aan die seuns verduidelik dat dit sy eerste taak op die toer is om beter mense (lees Christene) van hulle te maak, want beter mense is beter rugbyspelers en beter rugbyspelers het ‘n groter kans om van die wêreld ‘n beter plek te maak as swakker rugbyspelers.  Daardie nag bid ek in my hotelkamer:  “Here, ek verlang na my vrou en kinders, my familie, my plaas, my skool, my kerk, my land, die lekkerte van Afrikaans en al is ek baie ver van die huis af, kan ek u teenwoordigheid aanvoel en weet ek dat u ook in die Noordelike Halfrond koning van die heelal is.”
 
Die volgende dag het ons op ‘n stadstoer vertrek en is ons voorgestel aan die 33-jarige Natalie, ons toergids na die Winterpaleis en ander pragtige besienswaardighede.  Sy kon goed Engels praat en op die bus het ek met haar begin gesels oor ‘n verskeidenheid onderwerpe.  Haar familie en grootwordjare in kommunistiese Rusland, onderrig en opvoeding, haar vriende en haar werk.  Toe ons by geloof kom, vertel sy dat haar pa ‘n ateïs en haar ma ‘n Katoliek is.  Sy is wel gedoop en ‘n Christen, maar dit was ook min of meer die laaste keer dat sy in ‘n kerk was. Volgens haar is ‘n mens se geloof baie privaat en alhoewel baie Russe te kenne gee dat hulle aan die Russiese Ortodokse Kerk behoort, gaan minder as 10 persent van hulle een maal per maand kerk toe.  Met die stadsverkeer wat by ons verbyvleg, bid ek oop oë:  “Here, hoe is dit moontlik dat iemand ‘n ateïs kan wees?  Hoe kan mense U bestaan ontken, U liefde en genade in U gesig teruggooi en ‘n streep deur U kruisdood trek?  Weet Natalie se pa dat hy, en miljoene ander Russe soos hy, nie U Ewige Koninkryk sal ingaan nie?  Pla dit hulle nie?  Is die nood in ons eie gemeente, kerk en land dan so hoog dat die AP Kerk se sending en evangelisasie diensgroep nog nie by hierdie mense uitgekom het nie?  Here, waarom is ek dan so bevoorreg dat U Heilige Gees aan my hart kom klop het en ek U roepstem kon beantwoord? Ek nietige sondaar mens.?  Here, wat is die Afrikaner dan dat U aan hom dink, die Afrikaner, dat U hom besoek...?”
 
“Here, wat help al hierdie pragtige kerke met hulle goue koepeldakke en goue  kerktorings as niemand meer daarin U Naam aanroep en U loof en prys nie?  Wat help dit miljoene mense wêreldwyd besoek jaarliks van hierdie kerke as toeriste en raak in vervoering oor die pragtige kunswerke en skilderye, maar daar is geen gereelde kerkgangers of gemeentelede nie?  Wat help die pragtige staatskerk in Moskou, waarvan ons die mooiste foto’s geneem het, maar daar word nooit ‘n diens in gehou nie?” Natalie se stem draal voort oor die bus se klanksisteem en ek besef weereens dat jy en ek en al God se kinders, die kerk van Christus hier op aarde is en nie die sement, sand, steen en staal waaruit die kerkgebou bestaan nie.
Vinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.x

Facebook Bladsy