Nuusflits 7 - Kunstefees

BCVO-leerlinge toon hulle kreatiwiteit!
 
Die kunsafdeling van die jaarlikse BCVO Kultuurfees het hierdie jaar weer wonderlike talent ontbloot. CVO leerlinge kry jaarliks geleentheid om aan die BCVO Kultuurfees deel te neem in verskeie afdelings, waaronder redenaars, toneel, voordragte, sang, musiek, literêre werk, beeldende kuns (wat skilder, beeldhou, ens. insluit), fotografie, kunsvlyt, ens. Leerlinge neem eers plaaslik deel by die 37 CVO skole landswyd. Die beste inskrywings dring deur na die Streeksrondte waar items weer beoordeel word. Hierdie jaar is ongeveer 1600 stukke op Streekvlak beoordeel. Die bestes van elke Streek dring dan deur na die Nasionale rondte waar elke inskrywing weer deur onafhanklike beoordelaars beoordeel word. Hierdie jaar het meer as 400 items as Streekwenners in ses kategorieë deur gedring, wat op nasionale vlak meegeding het.
 
Een van die beoordelaars, mev. Anne-Marie le Roux, het opgemerk dat daar hierdie jaar soveel meer mooi en kwaliteit stukke as in die verlede is en dat die kinders ware kuns gelewer het. As beoordelaar is dit vir my belangrik dat ʼn kind se eie handvaardigheid en tegniek so vroeg moontlik ontwikkel en gestimuleer word. As hulle tegnies vaardig raak, kan hulle later soveel makliker uitdrukking gee aan hulle idees sonder om te wonder watter metode of tegniek om te gebruik. Die kunsstuk moet ʼn bestaansreg van sy eie hê en nie net tegnieke demonstreer nie. Dit moet dus ʼn storie vertel en die kyker visueel trek.   
 
Die belangrikheid daarvan om kuns te stimuleer in die oorvol skoolkurrikulum word so maklik onderskat. Kuns en musiek is gewoonlik van die vakke wat maklik en eerste uitgefaseer word as daar finansiële of tydsdruk is.  
 
Kuns is universele kommunikasie sonder taalstrukture, spelling, leestekens en woordkeuses, dus ʼn manier van kommunikeer waar selfs die leerling met leerprobleme suksesvol kan wees. Dit strek oor taalgrense en is nie net ʼn goeie tydsverdryf nie. Dit stimuleer die brein om probleme op te los en keuses te maak. In Japan word die kreatiwiteit en inisiatief van entrepreneurs direk toegeskryf aan die belangrike rol wat Kuns in hulle skoolkurrikulum speel.
 
Danél van Wyk, een van die deelnemers, sê: “Kuns is soos my inkleurkryte en die lewe my inkleurboek.  Ek neem nou al vier jaar kunsklasse. Dit was nog altyd vir my makliker om myself in prentjies uit te druk as in woorde.  Kuns is interessant, want daar is so baie maniere om alles  te doen.  Kuns is kleurvol, selfs ‘n potloodskets, omdat jy dit donkerder, lig of self met patrone kan inkleur.  As jy beheer oor jou hande het, kan jy enige iets doen.” Kuns bou verhoudinge en ontwikkel talente. Pieter van Schalkwyk sê dat sy ouma hom geleer skilder het en dat hy graag só tyd saam met haar spandeer. Met sy kuns kan hy sy talente wat God vir hom gegee het benut.
 
Kuns leer leerlinge om te waag, te probeer, inisiatief te neem. Luzaan van Schalkwyk sê sy gebruik dit as geleentheid om haar kreatiwiteit vry te stel en na sy die eerste skildery ingegee het, het sy besef hoe lekker dit is. Nou probeer sy elke jaar ten minste een skildery ingee vir beoordeling. 
 
Navorsers wat die kreatiewe ontwikkeling in jong kinders bestudeer het, het bevind dat eksperimentering, verkenning, uitvinding en verbeelding die basis vorm vir hoër kognitiewe ordes soos sinteses, ondersoek, gevolgtrekkings en navorsing. Kritiese en kreatiewe denke moet hand-aan-hand ontwikkel word. Leerlinge kom ook agter dat daar meer as een moontlike oplossing is en dat alles nie net een regte oplossing het nie. Dit dra later by tot beter werknemers, want hulle het geleer om uit die boks te dink.
 
Akademiese prestasie verhoog na mate leerlinge se kreatiwiteit ontwikkel en gestimuleer word. Studies in Amerika het bevind dat leerlinge wat drie keer per week Kuns neem of met kuns werk, ʼn vier keer beter kans het om akademies uit te styg, veral in Wiskunde, Wetenskap en Tale. Dit is veral die vermoë om opstelle en gedigte te skryf wat merkbaar verbeter. Dié leerlinge se konsentrasie het ook verbeter. Hulle is meer ontspanne, het meer selfvertroue, is positief en doelgerig.
 
“Kuns is vir my soos vakansie. Dit laat my heerlik ontspan, veral saam met my kunsmaats.  Ek neem al van Gr R af kuns. Ons kan nie wag vir elke jaar se kunstemas nie.  My juffrou Marinda is die beste!  Sy laat ons toe om te kies wat ons wil teken.  Ek hou daarvan om altyd iets nuuts te probeer.
Ons werk met verskillende mediums,  my gunsteling is akrielverf en potloodsketse.  Hier in die Bo –Karoo waar ons bly, is dit maar vaal, maar kuns maak my lewe vol kleur.  Ek hou daarvan om dinge in die natuur te teken, want dan sien ek altyd hoe uniek die Here alles geskep het.  Kuns is die beste manier om vir die Here dankie te sê vir al die goeie dinge wat Hy oor my pad stuur”, aldus Anja van Wyk.
 
Die BCVO-Kultuurfees waar leerlinge teen mekaar deelneem in die voordra van gedigte, monoloë, toneel, kore, musiek, redenaars, ens. vind DV 18 en 19 Augustus 2017 in Lichtenburg plaas. Die wenners in die kunsafdelings sal dan ook hulle trofeë ontvang. BCVO wenners word bepaal deur die punte behaal op Streek- en Nasionale vlak in ag te neem.
 
Dit is baie belangrik om ’n kind holisties as mens te ontwikkel en te stimuleer, daarom is die Kultuurfees, waar leerlinge geleentheid kry om hulle kunstalente te ontwikkel, baie belangrik, sê mev. Lucia van Wyk, Uitvoerende Hoof van BCVO. Gee u kind dus geleentheid om kreatief te wees op welke manier ook al. 
Vinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.x

Facebook Bladsy