Nuusflits 5 van 2017

Jeuguitruil na Duitsland Junie 2017
Op versoek van ouers het BCVO begin om ‘n jeuguitruilprogram na Duitsland te ondersoek. Die doel met so ‘n program
is om belangstellende gesinne en hulle kinders blootstelling te gee aan ‘n verrykende kulturele en intellektuele uitruilpropgram. Daar was besluit om die  uitruilprogram te doen deur ‘n gevestigde organisasie met goeie ervaring in hierdie verband,naamlik ‘Friends of South Africa’ of FSA (Freundeskreis für Südafrika).
 
Ses van ons graad 10 en graad 11 leerlinge het aansoek gedoen uit 75 aansoeke landwyd. Die keuringsproses is streng en leerlinge moet vooraf deelneem aan verskeie opdragte om hul geskiktheid te toets. Die goeie nuus is al ses leerlinge is gekeur en gaan die Junie vakansie na Duitsland om daar saam met ‘n Duitse gesin te woon en skool te gaan.Twee van ons CVO leerlinge het saam tweede plekke behaal uit die 75 aansoekers landwyd. Ons hartlike gelukwense aan die volgende leerlinge:
Naam
Van
Doopname
Gr
Skool
Dorp
Nasionaal
Marna
Ernst
Margaretha Susanna
11
Privaatskool Hoëveldrif vir CVO
Bethal
2
Carla
Lottering
Carla
10
CVO Vivo Skool
Vivo
2
Anelga
Steyn
Anelga
10
CVO Vivo Skool
Vivo
9
Marizane
Laufs
Marizane
11
CVO Skool Lichtenburg
Lichtenburg
37
Elsje
Smit
Elsje
10
CVO Gromar Privaat Skool
Groblersdal
52
Tersia-Mari
Eksteen
Tersia-Mari
10
CVO Gromar Privaat Skool
Groblersdal
53
 
BCVO is trots op al ses leerlinge en weet hulle sal ware ambassadeurs wees vir hulle gesinne, hul CVO Skole en Suid-Afrika. Hartlik geluk aan die ouers en skole van deelnemende leerlinge.

Nuusflits 4 van 2017

Christelik en Afrikaanse Onderwys – deur Eugéne Laäs April 2017
Die afgelope tyd word baie geskryf en gepraat oor die toekoms van Christelike onderwys in skole. Die onderwerp het sterk navore gekom nadat die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) in 2014 ses skole voor die hof gedaag het vanweë hul Christelike godsdiensbeleid.  Uit kommentare in die media is daar verdeeldheid oor die wenslikheid van godsdiens in skole al dan nie.  Sommiges oordeel dat godsdiens die taak van ouers en die kerk is. Die skool se taak is akademies van aard en het nie tyd of die kundigheid om Godsdiensopvoeding te doen volgens die ouers se teologiese beskouings nie. Ouers kla dat onderwysers godsdiens onderwerpe aanraak waarvan hulle weinig kennis dra en meer verwarring veroorsaak as wat hulle godsdiensopvoeding kan doen.
 
Volgens ons Grondwet mag openbare skole wel godsdiensonderrig toelaat, op voorwaarde dat sulke onderrig volgens publieke riglyne geskied, dat dit op gelyke grondslag uitgevoer word en dat bywoning daarvan vry en na eie diskresie moet wees. Die Skolewet en nasionale beleid van 2003 lê sulke riglyne neer en bevestig beheerrade se mag om godsdiensbeleid in openbare skole te bepaal, met herhaling van die vereiste dat godsdiensonderrig en -praktyke in die skole vry en volgens eie keuse moet wees. Die uitspraak oor die saak van godsdiens in skole word gedurende Meimaand verwag en sal die uitspraak van groot belang wees vir almal vir wie Christelike Onderwys belangrik is. Ons waardes wat ons elke dag dryf en die mense maak wie ons is, is ten diepste gewortel in ons Christelike waardes soos naasteliefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Dit is waardes wat Suid-Afrika bitter nodig het, hoe beleef ons nie elke dag  haat, selfsug, bedrog en selfs moord nie.
 
Volgens die Grondwet mag privaat skole met ‘n bepaalde godsdienstige en kultuur grondslag bedryf word. Hierdie skole  mag die belange van ‘n bepaalde geloof en kultuur beoefen en bevorder. Dit is waar die BCVO skole volle bestaansreg het en word deur die grondwet van Suid-Afrika beskerm. Die BCVO skole het ‘n gereformeerde grondslag vir ouers wat erns maak met hulle doopbelofte in die gereformeerde kerke. Hiermee word onsekerheid oor watter teologiese grondslag in die BCVO skole geld uitgeskakel. Die tweede belangrike been is die volkseie been wat spesifiek gerig is op die Afrikaner ouers se kinders. Ons geskiedenis en kultuurerfenis is vir ons belangrik en kan ons dit erken, daarvan leer en ons eie identiteit as Afrikaners bevorder. Hiermee is BCVO skole geensins polities van aard nie, maar gewoon Christelik en Volkseie gerig. Ons beskou ons nie beter as ander of as meerderwaardig nie, maar in nederige afhanklikheid van God Drie-enig word ons kultuur-eie beoefen en uitgeleef.
 
Ons doen ‘n beroep op ouers en voornemende ouers om aan te sluit by BCVO skole en ons hande sterk te maak ter wille van ons kinders.

Nuusflits 2 van 2017

“EK SAL JOU NOOIT BEGEWE EN JOU NOOIT VERLAAT NIE” Geskryf deur Pieta Oosthuizen
 
Ek was onlangs baie bevoorreg om gedurende die 2016 September skoolvakansie as hoofafrigter van die nasionale 0/19 Bokkieweek rugbyspan na Rusland te toer.  Vir my as plaasseun van die Vrystaat en CVO-onderwyser aan ‘n klein skooltjie van 75 leerlinge in Bloemfontein, het ek inderdaad die vreemde ingevlieg in ‘n Airbus B777-500 teen ‘n gemiddelde spoed van 885 km/h op pad na ‘n land letterlik aan die ander kant van die aardbol.  Om te sê dat ek ietwat aan die bang kant was vir hierdie heerlike uitdaging waarbinne ek my bevind het, was om dit sag te stel.
 
Nadat die Boeing in die lug was, het ek besef dat daar menslik gesproke geen kans was om te oorleef indien die vliegtuig sou val nie. Hierdie besef het nie gehelp om my reeds oorspanne senuwees tot bedaring te bring nie.  ‘n Skietgebedjie was nou al genade.  “Here, hou u asseblief self die vlieënier se hande vas en stuur u die vliegtuig sodat ons veilig by ons bestemming aankom”, het ek gebid. Die oorspronklike skietgebedjie het egter in ‘n vurige gebed verander waarin ek myself soos voor nagmaal ondersoek het en my geliefdes en familie asook land en volk en vyande aan God opgedra het.  Deurentyd het Hebreërs 13:5 in my kop bly maal.  “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie”.  Skielik het my gemoed tot bedaring gekom en ek het gevoel en geweet dat God op daardie oomblik 36 000 voet bokant moeder aarde  waar die temperatuur buitekant die vliegtuig -57 grade Celsius was, ook met my was en dat niks of niemand my ooit uit Sy hand kan ruk nie. Maak nie saak wat met die vliegtuig sou gebeur nie, ek was veilig.  Wat ‘n verligting.  Ek wou dit uitskreeu sodat almal in die vliegtuig dit kon hoor.  “Ek is veilig in God se hand”!
 
‘n Paar sitplekke van my af het twee van my leerlinge, Michal en Dirkie, gesit.  Matriekseuns wat die span gehaal en saam getoer het.  Een ‘n dooplidmaat van die Gereformeerde Kerk en die ander een ‘n belydende lidmaat van ons kerk.  Albei pragtige kinders van die Here wat as deel van ons skool se Leerlingraad op ‘n gereelde basis verantwoordelik is om elke dag se saalbyeenkomste  met skriflesing en gebed te open.  Wat ‘n blye versekering om te weet dat ek in die gemeenskap van die heiliges was, al is dit net twee skoolseuns wat die Here ken, maar oor wie se antwoorde in die Bybelonderrigklas ek by meer as een keer verstom was oor die insig wat hulle in die Skrif openbaar het.  “Here, dankie vir CVO-skole en elke ander skool in ons land waar Jesus Christus openlik bely word”, het ek weer gebid. “Dankie Here vir ‘n vak soos Bybelonderrig in ons skool, dankie vir ons Bybelonderrig onderwyser, meneer Danie de Klerk, wat erns maak met sy vak en vir elke ander Christen onderwyser in hierdie mooi land van ons wat kinders van U leer.  Dankie Here vir verbondsonderrig en elke verbondsonderrig voorganger in die AP Kerk.  Dankie vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Gideons vir die sakbybeltjie in my rugsak en vir tegnologie wat tot gevolg het dat die 1933/53 vertaling van U Woord, in Afrikaans, op my selfoon in my hand beskikbaar is”.  Met ‘n glimlag het ek my rugleuning agtertoe geskuif en begin om die vlug te geniet.
 
Nadat ons veilig in St. Petersburg geland en by Hotel Okhtinskaya ingeboek het waar ons die volgende drie nagte sou deurbring, was die spanbestuurder, meneer Dolf Uys, se eerste woorde aan ons:  “Seuns, etenstyd is 19:00 Russiese tyd.  Ek soek almal kwart voor in die voorportaal vir aandgodsdiens.  Moenie laat wees nie!”  “Dankie Here vir elke Dolf Uys wat as bestuurder van Suid-Afrikaanse rugbyspanne, plaaslik en in die buiteland optree”, het ek weer ‘n skietgebedjie opgesê.  En later weer toe Dolf aan die seuns verduidelik dat dit sy eerste taak op die toer is om beter mense (lees Christene) van hulle te maak, want beter mense is beter rugbyspelers en beter rugbyspelers het ‘n groter kans om van die wêreld ‘n beter plek te maak as swakker rugbyspelers.  Daardie nag bid ek in my hotelkamer:  “Here, ek verlang na my vrou en kinders, my familie, my plaas, my skool, my kerk, my land, die lekkerte van Afrikaans en al is ek baie ver van die huis af, kan ek u teenwoordigheid aanvoel en weet ek dat u ook in die Noordelike Halfrond koning van die heelal is.”
 
Die volgende dag het ons op ‘n stadstoer vertrek en is ons voorgestel aan die 33-jarige Natalie, ons toergids na die Winterpaleis en ander pragtige besienswaardighede.  Sy kon goed Engels praat en op die bus het ek met haar begin gesels oor ‘n verskeidenheid onderwerpe.  Haar familie en grootwordjare in kommunistiese Rusland, onderrig en opvoeding, haar vriende en haar werk.  Toe ons by geloof kom, vertel sy dat haar pa ‘n ateïs en haar ma ‘n Katoliek is.  Sy is wel gedoop en ‘n Christen, maar dit was ook min of meer die laaste keer dat sy in ‘n kerk was. Volgens haar is ‘n mens se geloof baie privaat en alhoewel baie Russe te kenne gee dat hulle aan die Russiese Ortodokse Kerk behoort, gaan minder as 10 persent van hulle een maal per maand kerk toe.  Met die stadsverkeer wat by ons verbyvleg, bid ek oop oë:  “Here, hoe is dit moontlik dat iemand ‘n ateïs kan wees?  Hoe kan mense U bestaan ontken, U liefde en genade in U gesig teruggooi en ‘n streep deur U kruisdood trek?  Weet Natalie se pa dat hy, en miljoene ander Russe soos hy, nie U Ewige Koninkryk sal ingaan nie?  Pla dit hulle nie?  Is die nood in ons eie gemeente, kerk en land dan so hoog dat die AP Kerk se sending en evangelisasie diensgroep nog nie by hierdie mense uitgekom het nie?  Here, waarom is ek dan so bevoorreg dat U Heilige Gees aan my hart kom klop het en ek U roepstem kon beantwoord? Ek nietige sondaar mens.?  Here, wat is die Afrikaner dan dat U aan hom dink, die Afrikaner, dat U hom besoek...?”
 
“Here, wat help al hierdie pragtige kerke met hulle goue koepeldakke en goue  kerktorings as niemand meer daarin U Naam aanroep en U loof en prys nie?  Wat help dit miljoene mense wêreldwyd besoek jaarliks van hierdie kerke as toeriste en raak in vervoering oor die pragtige kunswerke en skilderye, maar daar is geen gereelde kerkgangers of gemeentelede nie?  Wat help die pragtige staatskerk in Moskou, waarvan ons die mooiste foto’s geneem het, maar daar word nooit ‘n diens in gehou nie?” Natalie se stem draal voort oor die bus se klanksisteem en ek besef weereens dat jy en ek en al God se kinders, die kerk van Christus hier op aarde is en nie die sement, sand, steen en staal waaruit die kerkgebou bestaan nie.
Vinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.xVinaora Nivo Slider 3.x

Facebook Bladsy