Die BCVO se dienste in 'n neutedop

Kurrikulumdienste

BCVO bied 'n volledige kurrikulumdiens vanaf kleuters tot graad 12. Dit is 'n verrykte kurrikulum met 'n Christelike grondslag wat ten volle aan die nasionale kwaliteitsvereistes van die Departement van Onderwys en Umalusi voldoen.

CVO Skole

Die bestaande landswye netwerk van 30 geregistreerde en geakkrediteerde CVO Skole word deurlopend ondersteun in aspekte van bemarking, skoolbeleide, administrasie, kurrikulêre dienste, sport en kultuur.

Professionele Advies

BCVO bied advies- en ondersteuningsdienste aan bestaande en voornemende skole in die registrasieprosesse by die Provinsiale Onderwysdepartemente en akkreditasie by Umalusi. Besture en onderwysers word op verskeie maniere en vlakke bygestaan en ondersteun.

BCVO Handboeke

BCVO spog met ‘n reeks van 176 boeke. Dit sluit in 122 handboeke van gr. 0 – 12 met 48 onderwysersgidse. BCVO is tans ook besig om leesboeke te ontwikkel wat die temas in die Grondslagfase se boeke sinvol aanvul.

BCVO 30

Onafhanklike Eksamenraad (IEB)

Die BCVO kurrikulum berei leerlinge voor vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) (Gr. 12) aangebied deur IEB. Ons is trots op die BCVO leerlinge wat vir 2023 'n 100% IEB slaagsyfer behaal het.

Sport

Amptelike BCVO landswye sportgeleenthede sluit in Atletiek, Rugby, Netbal, Krieket, Tennis, Landloop en Skaak.

Ouers & Leerlinge

CVO Skole is Verbondsouerskole. CVO skole vorm die verlengstuk van die ouerhuis en neem hande met ouers om hulle kinders as geheelmens toe te rus om hulle plek na skool in die samelewing vol te staan.

Kuns & Kultuur

Amptelike BCVO landswye kultuuraktiwiteite sluit in: Beeldende Kuns, Literêre werke, Bybelkennis, Redenaars en 'n Kultuurfees waar leerlinge hulle vaardighede op verskeie gebiede kan wys, bv. voordrag, drama, musiek, ens.

Die BCVO struktuur in meer diepte

BCVO - Ter wille van ons kinders - Tot eer van God!

Organisasie & Bestuur

Die BCVO is ‘n geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk.

Daar word jaarliks ‘n Algemene Jaarvergadering gehou wat deur lede bygewoon word. ‘n Direksie word dan verkies wat na die belange van die lede omsien. Die Uitvoerende Hoof / kantoorhoof dien ampshalwe ook op die direksie. ‘n Persoon met finansiële agtergrond en ondervinding hanteer die BCVO se finansies.

Die BCVO is georganiseer in ‘n aantal Rade wat kortliks hieronder bespreek sal word. Elkeen van hierdie rade vervul ‘n spesifieke opdrag om sodoende die missie van die BCVO ten uitvoer te bring.

Die verhouding tussen ‘n CVO skool en die BCVO word gereël deur ‘n onderlinge diensooreenkoms. CVO skole word opgerig en bestuur deur ouers wie se geloofs- en kultuuroortuigings ooreenstem met die BCVO se waarstelsel en beleid. Skole het egter die outonomiteit om ‘n beperkte getal ouers wat van ander oortuiging is, maar tog hul kinders in die CVO-skole wil plaas, toe te laat. Daar is egter sekere belangrike reëls deur die BCVO se ledevergadering vasgestel wat in hierdie verband nagekom moet word.

BCVO - Ter wille van ons kinders - Tot eer van God!

Die BCVO Onderrigraad

Die BCVO-Onderrigraad funksioneer in terme van die Akte van Oprigting, Beleidsdokumente en Algemene Jaarvergaderingbesluite van die BCVO onder direkte toesig van die BCVO Direksie verteenwoordig deur die Hoof Uitvoerende Beampte en is onder meer verantwoordelik vir:

  • Die ontwikkeling en koördinering van alle onderrigaangeleenthede binne BCVO- skole vanaf pre-primêr (kleuters), graad 0 tot graad 12 gegrond op die Woord van God as onfeilbare bron van kennis en volgens die beginsels van die Christelik-volkseie onderwysmodel, soos verwoord in die toelatingsbeleid van die BCVO.
  • Die begronding en ontwikkeling van vakinhoude en vakonderrig met ‘n konsekwente Calvinisties Gereformeerde-volkseie inslag.
  • Die daarstelling en voortdurende ontwikkeling van leerplanne, werkskemas, werkboeke en handboeke vir CVO skole.
  • Die verdere ontwikkeling en uitbouing van die CVO skoolmodel.
  • Die daarstelling en handhawing van hoë onderwysstandaarde.
  • Die daarstelling en instandhouding van vakkomitees vir elke vak, die junior primêre fase asook die kleuterfase.
  • Die hantering van alle kurrikulêre aangeleenthede vir en namens die BCVO.
  • Die ontwikkeling en verfyning van ‘n Christelike evalueringsbeleid en ‘n wetenskaplike evalueringstelsel vir toepassing, van graad 0 tot graad 12, in alle CVO skole.
  • Die ontwikkeling van ‘n eie CVO didaktiek en onderwysbenadering.
  • Die evaluering van skoolbestuur en vakonderrig by skole op aanvraag van die skool via die BCVO of op aanvraag van die BCVO self.
  • Die samesnoering tot ‘n hegte onderriggemeenskap van alle doserende personeel aan CVO skole, ‘n onderriggemeenskap wat onderrigbelange aan CVO skole bevorder met erkenning van die primêre opvoedingsgesag van verbondsouers oor hul kinders. 

BCVO hou jaarliks ten minste twee virtuele skoolhoofvergaderings asook twee streekhoofde vergaderings om skoolhoofde geleentheid te gee om insette te lewer.  Die vergaderings word afgewissel.

Die BCVO Direksie poog om meer voltydse vakadviseurs vir vakgroepe in die BCVO kantoor aan te stel om skole tot diens te wees.

BCVO - Ter wille van ons kinders - Tot eer van God!

Die BCVO Sportraad

GRONDSLAG

In die beoefening van sport sal die Drie-enige God erken en geëer word as die Skepper, Heerser en Onderhouer van alles soos dit in die Bybel verwoord is en betroubaar uitgelê is in die drie Formuliere van Eenheid.

Die Woord van God het goddelike en onfeilbare gesag en is die hoogste norm vir die ganse menslike lewe, ook vir sport en ontspanning.

 

DOELSTELLINGS

Die doelstellings van die Sportraad kan as volg uiteengesit word:

  • Om Christelike-volkseie opvoeding deur middel van sport te bevorder.
  • Om die Christelike beginsels deur woord en daad op Sportgebied uit te lewe.
  • Die Landswye BCVO-Sportraad ontwikkel en/of verbeter ‘n sportbedeling vir BCVO-Skole.
  • Om toe te sien dat ‘n gesonde balans tussen liggaam en gees gehandhaaf word. Binne die BCVO beklee die akademie die toonaangewende plek en word sport beskou as ‘n bykomende deel van die opvoeding van ons kinders.
  • Om landswye sportgeleenthede van BCVO-Skole te koördineer en sportbyeenkomste te organiseer en te laat plaasvind.
  • Om BCVO-Skole in BCVO-Sportstreke te organiseer.
  • Om leiding en hulp aan BCVO-Sportstreke en BCVO-Skole aangaande sportaangeleenthede te verskaf.

BCVO - Ter wille van ons kinders - Tot eer van God!

Die BCVO Kultuurraad

Grondslag

Die grondslag van die BCVO-Kultuurraad berus op die Bybel en erken die volstrekte Oppergesag van die Drie-enige God as die Skepper, maar ook as ons Skepper.

Die BCVO-Kultuurraad funksioneer sedert 1995 as integrale deel van die BCVO

Doelstellings

  • Om te stry en te arbei vir die behoud, bevordering en uitbouing van die Afrikanerkultuur in al sy fasette; wat insluit, maar nie beperk is tot: die Afrikaanse taal, die Afrikaanse lied, tradisie, geskiedenis, volkspele, sang, letterkunde, skryfkuns, vertolkende en beeldende kuns.
  • Om Bybelkennis uit te bou deur Bybelkennis-eksamens en -vasvrae.
  • Om die kultuuraangeleenthede van die BCVO en BCVO-skole te koördineer en landswye feeste, wedstryde en byeenkomste te reël en aan te bied in samewerking met die Streeksrade en instellings.
  • Om by die CVO-kinders ‘n liefde vir die Afrikaner se kultuur te kweek.
  • Om gesonde geestelike ontwikkeling van die CVO-kinders te bevorder.
  • Om in samewerking met die BCVO-kantoor, en –Direksie en alle ander rolspelers ‘n jaarprogram daar te stel.

BCVO bied die volgende deur geaffilieerde CVO skole:

Die kurrikulum van die BCVO word so saamgestel dat dit nie net aan meer as die minimum statutêre kwaliteitvereistes voldoen nie, maar met respek erken word deur die land se voorste universiteite en kolleges.

Die onlangse geskiedenis het gewys dat dit nie net op akademiese gebied is waar ons leerlinge ‘n voorsprong geniet nie, maar op alle gebiede. Omdat ons lidskole as ‘n verlengstuk van die gereformeerde ouerhuis dien, is die gebalanseerde opvoeding sigbaar in hul lewens en maak dit hulle uiters gesog in die beroepswêreld.

‘n Besondere voordeel van ons lidskole is die individuele aandag wat leerlinge kry as gevolg van die struktuur in CVO-skole. Die verhoudings tussen onderwyser/kind, ouer/jonger kinders en kameraadskap tussen ouer/onderwyser, is uniek aan ons skole. Ander droom net om daarvan deel te wees of dit te ervaar.

Dit is ook sigbaar op sport en kultuurgebied waar nie net die hoogs begaafdes al die aandag kry nie, maar almal die geleentheid kry om deel te neem en sodoende die nodige selfvertroue ontwikkel. CVO skole neem, binne volkseie kultuurverband, op streeks- en landswye vlak deel aan sportsoorte soos rugby, netbal, atletiek, krieket, landloop, skaak, tennis, ens. Op kultuurgebied bou aktiwiteite soos prosa, poësie, musiek, drama en redenaarskompetisies op vanaf streeksvlak tot by ‘n landswye kultuurfees.

CVO skole binne BCVO verband geniet al die voordele van selfstandigheid wat net onafhanklike (privaat-) skole kan geniet om nie net moedertaalonderrig nie, maar ook eie aard van geloof en kultuurgemeenskap te handhaaf. Omdat die BCVO nie gerig is op winsbejag nie, is dit moontlik vir lidskole om, ten spyte van harde ekonomiese werklikhede, ‘n bekostigbare privaat alternatief in stand te hou.

Die verskil in die lewe en toekoms van u Godgegewe geskenk en belangrikste prioriteit, kan nie in geld gemeet word nie!

Die hoë gehalte van CVO opvoedende onderrig blyk onder andere daaruit dat talle matrikulante al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie, spraakterapie ens. baie suksesvol voltooi het. Verskeie spog ook alreeds met merietebeurse en ander toekennings.

1. BCVO is in vennootskap met CVO skole en bedien skole met professionele advies oor sake soos Departementele- en Umalusi registrasie-vereistes.

2. BCVO voorsien volledige inligting rakende alle fasette waaraan skole moet voldoen om hoë standaarde te verseker op die terreine van bemarking, skoolbeleide, administrasie, kurrikulêre dienste, sport en kultuur.

3. BCVO organiseer personeelberade en opleidingsgeleenthede vir skoolhoofde, nuutaangestelde personeel en vakgerigte opleiding.

4. BCVO kan genader word vir hulp met ernstiger dissiplinêre sake soos verhore, dissiplinêre gesprekke en die oplossing van konflikte.

5. BCVO lewer ‘n regsdiens en skole kan ons nader vir hulp.

6. BCVO lewer ‘n volledige kurrikulumdiens wat insluit affiliasie by IEB die onafhanklike eksamenraad waardeur leerlinge hulle Nasionale Senior Sertifikaat verwerf.

1. Ouers met hulle verbondskinders is vir ons ‘n hoë prioriteit en alle klagtes of voorstelle word ernstig opgeneem.

2. Klagtes, kommentaar of voorstelle word eerstens met die verantwoordelike persoon opgeneem, daarna met skoolbestuur, die skool se opvoedingsraad en of met die BCVO kantoor.

3. Ouers word by skole verteenwoordig deur Opvoedingsrade en kan die Voorsitter gekontak word wat almal se belange op die hart dra.

4. Ouers en leerlinge word aangemoedig om betrokke te wees by die skool deur deelname aan sport en kultuur, fondsinsamelingsprojekte en as borge vir ander hulpbehoewende leerlinge.

5. BCVO skep geleenthede vir senior leerlinge om deel te neem aan uitruilskemas en hoofleierskampe as verrykende aktiwiteite.

1. BCVO skole bied ‘n volledige kurrikulumdiens vanaf kleuters tot graad 12. Groter skole is gekombineerde skole vanaf kleuters, gr 0 tot gr 12.

2. BCVO skole skryf tans die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen van die Onafhanklike Eksamenraad. Die IEB is ‘n onafhanklike eksamenliggaam wat afsonderlik van die Staat funksioneer binne die beperkings van nasionale wetgewing en voorskrifte van die nasionale kwaliteitsversekeringliggaam, Umalusi. Die CVO skole tree op in ooreenstemming met Umalusi-voorskrifte en die bepalings van Hoër Onderwys en gebruik professionele onderwysers wat in die praktyk staan.

3. Vanaf Gr 0 tot gr 12 word ‘n kurrikulum gevolg wat voldoen aan alle vereistes soos bepaal deur die Departement van Onderwys en Umalusi. Die unieke verskil in CVO skole is die feit dat wat u kind leer Christelik gefundeer word. Hiermee word gepoog om te voldoen aan die belofte wat verbondsouers afgelê het om hulle kinders groot te maak, te onderrig en te laat onderrig volgens die Woord van God soos vervat in die Bybel.

4. ’n Volledige program vir kleuters tot gr. 00 is in samewerking met kundiges waaronder ’n arbeidsterapeut, opgestel om aan kleuters ’n stewige fondasie vir ontwikkeling, onderrig en leer te gee.

5. Kyk na vakkeuses by die skool waarby u wil inskryf. U kan ook die BCVO kantoor kontak vir raad.

6. BCVO beskik oor bekwame vakadviseurs in elke vak om te verseker dat hoë standaarde gehandhaaf word. CVO skole bied ook Bybelonderrig en Christelike Lewensoriëntering om vir ons kinders ‘n goeie Christelike fondasie te gee waarop hulle, hulle geloof en waardes vir die lewe kan bou. Dit wat vir verbondouers belangrik is, word in die skool voortgesit, ondersteun en bevestig.

1. BCVO kan huidige en voornemende skoolstigters van raad bedien om te verseker dat aan al die registrasievereistes voldoen word. Alle onafhanklike skole moet by die Provinsiale Onderwys Departemente registreer en daarna by Umalusi.

2. BCVO bied professionele advies met vakkeuses, vakvereistes en slaagvereistes vir die Nasionale Senior Sertifikaat Gr 12.

3. BCVO beskik oor regsdienste en skole kan ons kontak vir hulp met alle dissiplinêre aangeleenthede.

4. BCVO hou skole op hoogte van sake met gereelde inligtingstukke wat aan personeel besikbaar gestel word.

1. BCVO skole se sport en kultuur word gekoördineer deur Sport- en Kultuurrade wat deelname moontlik maak op streek- en nasionale vlak. Kleiner skole word saam gegroepeer om deelname aan spanspele moontlik te maak. Verskeie uitblinkers was al geïdentifiseer vir provinsiale spanne en was beurse aangebied.

2. Die volgende sport aktiwiteite word amptelik aangebied binne die geledere van lidskole: Atletiek, Rugby, Netbal, Krieket, Tennis, Landloop en Skaak. Met ander sportsoorte kan leerlinge deelneem aan privaat sportklubs.

3. Die amptelike BCVO kultuuraktiwiteite is: Beeldende Kuns, Literêre werke, Bybelkennis, Redenaars en ‘n Kultuurfees waaraan leerlinge individueel of in groepe kan deelneem aan verskeie kultuuraktiwiteite.

1. BCVO skryf die Nasionale Senior Sertifikaat (Gr 12) deur IEB.

2. IEB gebruik die nasionale kurrikulum soos gereguleer deur die Departement van Basiese Onderwys.

3. IEB se kwaliteit word onderskryf deur Umalusi (Council for Quality Assurance in General and Further Education)

4. IEB se kwalifikasies word gemeet deur internasionale standaarde en word beskou as gelyk aan Cambridge AS vlak.

5. BCVO voldoen aan al die vereistes soos gestel deur IEB vir die NSS eksamen en ons slaagsyfer vergelyk baie goed met IEB se slaagsyfer.

6. BCVO is voortdurende besig met navorsing oor eksamenrade en wat die beste moontlikhede vir ons kinders kan bied.

BCVO - Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys

Ter wille van ons kinders Tot eer van God!