Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys
In vandag se veeleisende, sekulêre wêreld, gebeur dit dikwels dat die samelewing kinders as vanselfsprekend beskou. Hulle is maar net daar.
Onderwys, een van die fundamentele aspekte van hulle opvoeding, word dikwels as die regering se verantwoordelikheid beskou.
As antwoord hiervoor is die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) in 1994 in die lewe geroep as ‘n alternatief vir staatsonderwys. In die Beweging neem verbondsouers self verantwoordelikheid om die doopbelofte (kinders op te voed in die leer van die Bybel) na te kom. Die BCVO is die nie-winsgewende sambreelmaatskappy waarby CVO-skole geaffilieer is en lewer studiemateriaal, sowel as gekoördineerde sport- en kultuurgeleenthede op nasionale vlak, aan CVO-skole.
Die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) streef daarna om ‘n ontwikkelende onderwysstelsel daar te stel wat ‘n kind die wêreld in stuur om met verantwoordelikheid sy Christelik Gereformeerde roeping in die samelewing te vervul.
Die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys verbind hom daartoe om saam met sy Onderwysvennote aan sy kliënte en nageslag ʼn omvattende wêreldklas onderwysdiens te verskaf.
Christelike onderwys onderskryf die beginsels van die Skrif om 'n stewige fondasie vir jou kind se toekoms te vestig.
Uit die woorde van President Kruger: "Neem uit die verlede alles wat goed en mooi is, vorm daarna jou ideaal en streef dan om dit in die toekoms te verwesenlik."
'n Verrykte kurrikulum om jou kind vir die toekoms in die internasionale mark voor te berei.
Ons glo dat die Woord korrek vertolk word soos gevind in die drie formuliere van eenheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Daarom huldig ons hierdie skrifbeskouing. Ons neem ouers aan as lede wat in enige kerk is waarvan hierdie drie formuliere die belydenisgrondslag is. Hierdie uitleg van die Skrif word ook in die studiemateriaal wat in CVO skole gebruik word, weerspieël.
Ons glo dat die Vader volkere-verskeidenheid daargestel het. So ook vir ons as volk. Ons volk het in die besonder beslag gekry deur die Gereformeerde geloftes van die geskiedenis. Eerstens dié van Jan van Riebeeck op 6 April 1652 en dan 16 Desember 1838. Die handhawing en uitlewing van hierdie saak is vir ons ononderhandelbaar.
Die aard van ons onderwys, hoewel ons die staat se benaming van vakke en die kurrikulumindeling gebruik, onderskei ons van ander skole. Ons sillabusse het ons eie verrykte inhoud. Ons onderrig, behalwe dat dit streef na uitnemendheid op verskillende vlakke, is gefokus op kennis en insig.
Ons is tans besig met die ontwerp van ‘n stelsel waarin ons steeds, soos in die verlede, vir ‘n leerling die geleentheid wil gee om die beste te maak van die talente wat die Vader aan hom/haar gegee het. Daarom is ons besig (met die hulp uit die geledere van Afrikaanse universiteite) om ons kurrikulum so op te stel dat ons leerlinge só toegerus sal word dat geen oorbruggingskursusse nodig sal wees nie. Ons vestig ook ons aandag op geleenthede vir besonder begaafde leerlinge en dié wat verkies om ‘n spesiale rigting, bv. tegnies of landbourigting te volg.
BCVO gee vir kinders vlerke vir die toekoms!!!
Die BCVO
Die waardes hierna is gelys in prioriteitsorde, sodat dit benut kan word as ‘n rigtinggewende maatstaf by alle besluite, deur die BCVO direksie, uitvoerende direkteure en personeel. Die waardestelsel is ook ‘n uitdrukking van die etos van die beweging en moet as sodanig deur elke lid en personeellid eerbiedig en uitgedra word. Dit moet ook deur elke ouer en elke leerling aanvaar en onderskryf word. Diegene wat nie 100% daarmee kan assosieer nie, moet dit nietemin aanvaar dat die etos van die Beweging nie om hulle onthalwe aangepas en verander kan word nie.
Rubensteinweg 745,
Moreletapark,
Pretoria,
0181.
Ma. – Do.: 07:15 – 15:00
Vr.: 07:15 – 13:00